Alles en nog wat!

Wanneer die eerste delikate note van die klavier uit jou CD speler opklink  maak Catherine Jones uit die staanspoor die belofte dat jy in is vir ‘n uitsonderlike ervaring. En dan volg die suiwerste stem wat jou dwing om jou oë toe te maak om alle ander sensoriese invloede uit te skakel.

Alles en nog wat! is ‘n pragstuk – en die titel sê presies wat jy te wagte kan wees. Sonder om ‘n kompromie met haar eiesoortige klank te skep het sy ‘n volwasse album saamgestel met tekstuur en diepte.

Elkeen van die 14 snitte is deur Catherine geskryf, behalwe Kaalvoetklontjie wat ‘n  unieke toonsetting van ID du Plessis se bekende gedig is. En elkeen het ‘n individuele gevoel. Met die betowerende klanke van Ek het jou lief weef sy ‘n web wat jou met melodie en woord koester. Op Ek wil vlieg gee sy ‘n stukkie van haar siel en Ja, ja, ja ... whatever is ‘n spieëlbeeld van hoe ons almal soms voel.

Catherine se talent is onteenseglik en gaan gepaard met ‘n vars eerlikheid.
Die album is gevul met hartsgoed en ‘n soms ontblotende passie wat aan jou siel raak. Daar is die ritme van Afrika wat jou bloed sal laat bruis, die geur van die Bo-kaap wat jou kiewe prikkel en deurlopend die besef dat dié mooi vrou ‘n lisensie het tot digterskap.

Net soos haar donker misterieuse skoonheid, is haar lirieke ook verweef met misterie en verwondering. Haar opleiding as klassieke pianis en die verdere dimensie van kitaar- en fluitopleiding verleen aan haar ‘n uitgebreide palet vanwaar sy ‘n ware kunswerk geskep het. ‘n Skildery kan miskien ‘n 1000 woorde voorstel – Catherine Jones kry dit reg om met ‘n delikate tafereel dieselfde te doen. Die span wat bygestaan het met die instrumente skets atmosfeer en prente en sy verleen nuanse en kleur met haar stem wat, sonder om doekies om te draai, eenvoudig ongelooflik is.

‘n Ware kunstenaar kry dit reg om na jou hand uit te ryk en dan jou hart te raak. En Catherine slaag uitstekend daarin om die luisteraar op ‘n ontdekkingsreis te lei. Die album bevat niks voorspelbaar nie. Soms is daar verrassings en soms pure meevoering. In sommige van die snitte verras sy met ‘n instrument op ‘n onverwagse oomblik en die atmosfeer verander in ‘n oogwink. Ander kere slaag sy daarin om jou gedagtes te laat wandel wanneer stilte slim gebruik word om die melodie kans te gee om vanself in jou kop te vervaag en sugtend te laat terugsit. Catherine skep met Alles en nog wat! ‘n shangrila vir elkeen wat daarna luister.

Catherine is besig om haar vlerke te sprei en bewys met Alles en nog wat! dat sy op die pad is om een van die beste vroulike kunstenaars te word wat die afrikaanse mark in ‘n lang tyd opgelewer het. Sy gaan vlieg.

Catherine Jones is ‘n splinternuwe kunstenaar op die Suid-Afrikaanse musiekfront wat reeds groot opslae maak in die kontemporere mark.  Haar debuutalbum, Goodnight…, is oor ‘n tydperk van drie maande opgeneem saam met die bekende vervaardiger, Johan Heystek. Goodnight  is ‘n kraakvars album van oorspronklike materiaal wat spreek van artistieke onafhanklikheid.

Dwarsdeur die album word haar bekwaamheid in komposisie en haar merkwaardige stem onthul.
Die unieke nuanses van haar stem en haar intense oorgawe in die oordrag van die boodskap van haar lirieke, maak haar ‘n betowerende kunstenaar om na te luister – of dit nou 2-uur in die oggend in jou sitkamer is, of teen vol volume in jou motor!

Catherine is ‘n klassieke pianis, en sy is ook opgelei in kitaar en fluit.  Sy het begin liedjies skryf op 14. “ Wanneer ek ‘n spesifieke emosie intens ervaar, gaan sit ek voor my klavier en skryf neer presies wat ek voel.  Die lirieke lei my dan na die melodie, wat die geheel voltooi. “

Sy het in Hartbeespoort grootgeword, en na skool ‘n graad in Sielkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal. Sy het ook vir ‘n jaar dans bestudeer, en ‘n sertifikaat in 5 genres verwerf. Daarna het sy by ‘n privaatskool in Johannesburg onderwys gegee in musiek, voordat sy die groot sprong geneem het om ‘n voltydse loopbaan te begin in dit waarvoor sy glo sy geskape is. Na ‘n jaar se intense vokale opleiding by Password International en vele uitvoerings by elke moontlike venue en funksie, het sy besluit om haar eerste CD op te neem, met ‘n repertoire wat geskep is oor die laaste 7 jaar.

Goodnight… is ‘n merkwaardige album. Diverse musikale genres word gekombineer, van ‘n Britse rock openingsnit tot ‘n jazzy vibe teen die einde. Tussen-in is daar vloeiende liefdesballades en selfs ‘n speelse Wals. Haar hunkerende “Won’t you come back” vertel die verhaal van amper 10,000 Suid-Afrikaanse vroue, wie se geliefdes in die realiteit van die oorlog in Irak werk. Met ”Fairytale of our love” voer sy jou weg na ‘n wêreld van liefde en romanse, maar bring jou weer terug na realiteit  met “You deny my feelings”. Die aangrypende tittelsnit “Goodnight my love” laat mens in vervoering lank nadat die klank vervaag het. ‘n Musiek video van die titel snit, Goodnight, my love..is saam met haar CD in November vrygestel. Hierdie talentvolle sangeres en liedjieskrywer het definitief daardie “iets” wat haar bo meeste ander laat uitstyg.

Die album word afgesluit met twee aangrypende snitte in Afrikaans: die nostalgiese Gister en die jazzerige Malawiemeer. Voorwaar ‘n genotvolle slotsom tot ‘n meesterlike album!

Op die vraag oor watter boodskap sy deur haar musiek wil oordra antwoord sy: “Ek wil graag deur my musiek ‘n fisiese sensasie van aanraking oordra na die luisteraar. Elke persoon wat luister moet ge”touch” word. Ek glo alle goeie gawes kom van bo. Om te skryf en te sing is die talente wat aan my geskenk is, en daardeur wil ek myself met andere deel. Uiteindelik is dit tog die belangrikste rede waarom ons geskape is - om te gee”.

Met Goodnight… neem Catherine Jones ‘n onverskrokke tree in die toekoms in, en met haar sielvolle liedjies en suiwer talent reik sy uit na musiekliefhebbers oor die wêreld heen.

 

Vir meer inligting, skakel Lydia Winchester by 011 475 2187 / 082 554 8453 of stuur ‘n e-pos na lydiaw@mweb.co.za